Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Vaselinetjie: ’n Huldeblyk aan die krag van die menslike gees

yellowyellowyellowyellowgray

Tydsduur: 103 minute
Ouderdomsbeperking: 13 LPV
Genre: Drama
Vervaardigers: Danie Bester en Saskia Schiel
Regisseur: Corné van Rooyen
Draaiboek: Corné van Rooyen en René van Rooyen
Musiek: Ben Ludik
Kinematografie: Adam Joshua Bentel
Redigering: C.A. van Aswegen
Rolverdeling: Nicole Bond, Marguerite van Eeden, Shaleen Surtie-Richards, Royston Stoffels, Ashley Howla, Arno Greeff, Anchen du Plessis, Elzet Nel, Daniah de Villiërs, Elani Dekker, Rowan-Raine Pretorius, Marise Loots, Melita Steyn, Zack Mtombeni, David Mello

Vaselinetjie wat op die gelyknamige jeugroman deur Anoeschka von Meck gebaseer is, vertel die verhaal van hoe die blanke Helena Bosman in ’n weeshuis beland na sy deur die welsyn op 11-jarige ouderdom van haar bruin oupa en ouma weggeneem is. Sy moet dus noodgedwonge in die vreemde, ongenaakbare en gevaarlike wêreld van die weeshuis ’n jong vrou word vanaf 1993 terwyl Suid-Afrika op die kruin van onherroeplike politieke verandering staan. Dié menslike drama oor ’n jong meisie se lang reis van selfontdekking tot uiteindelike selfaanvaarding beloof om vir kykers nuwe hoop te bring oor hulle vermoë om bo enige omstandighede te kan uitstyg.

René en Corné van Rooyen wat ook Hollywood In My Huis se draaiboek behartig het, verras  met ’n byna gesinsvriendelike verwerking van die veelbekroonde jeugroman, Vaselinetjie. Hulle slaag daarin om ’n goeie balans tussen drama, hartseer en humor te kan behou sonder om in die strik van melodrama te trap. Dié verhaal wat oor sowat agtien jaar strek, eindig weer by die begin wanneer die hoofkarakter self ’n verklaring van die gebeure in die openingstoneel verskaf. Die gebruik van natuurlike, realistiese dialoog deur die jongmense is verfrissend alhoewel daar betreklik min aandag aan die korrekte uitspraak van die Noord-Kaapse dialek geskenk is.

Corné van Rooyen van Sy Klink Soos Lente faam se regie word deur ’n subtiliteit gekenmerk waarin die dialoog en musiek geneig is om meestal ’n ondertoon teenoor beelde en klanke te voer. Die kinematograaf, Adam Joshua Bentel maak van ekstreme nabyskote asook vloeiende kamerawerk gebruik om Vaselinetjie se gedagtes en gevoelens doeltreffend te kan uitbeeld.

Marguerite van Eeden en Nicole Bond as onderskeidelik die ouer en jonger Vaselinetjie asook Elzet Nel as die ouer Killer maak elkeen ’n indrukwekkende debuut op die silwerskerm. Arno Greeff van Die Pro faam se oortuigende vertolking van die ouer Texan verdien definitief ook spesiale vermelding. Dis egter die gewilde akteurspaar, Shaleen-Surtie Richards en Royston Stoffels wat met hul kameerolle as onderskeidelik die liefdevolle Ouma en Oupa die kollig steel.

Die oorspronklike musiek wat deur Ben Ludik vir hierdie jeugfilm gekomponeer is, slaag beslis daarin om Vaselinetjie se eensaamheid en afgesonderdheid van die res van die samelewing te kan beklemtoon. Tegniese aspekte soos kamerawerk, redigering, musiek en klank word egter nooit ingespan om die gehoor te dwing om ‘n emosie te voel of om hul doelbewus te skok nie.

Die onderliggende tema van hierdie jeugfilm oor elke mens se soeke na sy of haar eie identiteit word teen die agtergrond van rassebewustheid sowel as die onuitwisbare invloed van Apartheid op die Suid-Afrikaanse geskiedenis uitgebeeld. Kwessies soos verkragting, geweld, prostitusie, rassisme, dwelms, bendes en selfmoordpogings is van die ander temas wat ook hierin voorkom.

Hierdie film wat in baie opsigte aan Fiela se Kind herinner, slaag beslis daarin om ’n realistiese, hartroerende verhaal op ’n eerlike, nie-veroordelende wyse te vertel. Vaselinetjie sal definitief by ’n veel groter gehoor aanklank vind as bloot net die jongmense waaroor hierdie verhaal handel danksy die groot verskeidenheid volwasse temas wat daarin aangespreek word.