Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Vat ’n Kans: Drie dae in die stryd om liefde

Tydsduur: 69 minute
Ouderdomsbeperking: 13 PG VL
Genre: Romantiese Komedie
Vervaardigers: Deon Opperman, Soné Combrinck
Regisseur: André Velts
Draaiboek: Igna Botha
Kinematografie: Marius de Nysschen
Redigering: Juvan Redelinghuys
Produksie-ontwerp: Christian Joubert
Kostuumontwerp: Madelaine Lötter
Rolverdeling: Natassja Pretorius, Amalia Uys, Ansu Visser, Stefan Vermaak, Hannes Brümmer, Angelique Gerber, Nadia Beukes, Igna Botha

Vat ’n Kans vertel die verhaal van hoe Lisa Beukes, die produksiebestuurder van ’n gelyknamige realiteitsprogram besluit om ’n kans op liefde te waag nadat hul nuutste deelnemer, Christo Dippenaar haar hart gesteel het. Sy vermom, met die regisseur Wouter se hulp haarself as Nina Theron wat saam met die ander twee deelnemers, Brenda en Soné slegs drie dae het om sy hart te wen. Dié film met al sy onverwagte kinkels in die spreekwoordelike kabel beloof om aan kykers ’n realistiese blik op die dag-tot-dag lewe van ’n produksiespan agter die skerms tydens verfilming te bied.

Igna Botha wat as ’n skrywer van die kykNET sepie, Getroud Met Rugby bekendheid verwerf het, was vir dié komiese draaiboek met sy talle kwinkslae verantwoordelik. ’n Monoloog deur die hoofkarakter, Lisa wat deurgaans ook as verteller van die verhaal optree, dien heel gepas as die openings- en die slottoneel. Alleenspraak word verder ingespan as ’n tegniek om waardevolle insae te kan bied in Lisa se gedagtewêreld wat omtrent altyd presies die teenoorgestelde is van dit wat by haar mond uitkom.

André Velts van Jou Romeo-faam se ferm regisseurshand is baie duidelik sigbaar in die uitstekende toneelspel wat deurentyd gehandhaaf word. Hannes Brümmer (Ek Joke Net 2) as die slordige, agterlosige en onortodokse regisseur asook Ansu Visser (Wonderlus) as die koddige boervrou en brediekampioen, Brenda sorg vir die mees komiese oomblikke in hierdie film. Die res van die rolverdeling bestaan uit Natassja Pretorius (My Father’s War), Amalia Uys (Sy Klink soos Lente), Stefan Vermaak (Somer Son) en Nadia Beukes (Mooirivier) asook die draaiboekskrywer, Igna Botha in die kameerol van die onbeholpe intern, Emily.

Vat ’n Kans se konsep steun swaar op die van kykNET se gewilde Boer Soek ’n Vrou-reeks soos blyk uit een van hulle vorige aanbieders, Angelique Gerber wat ook die rol van dié fiktiewe realiteitsreeks se aanbieder, Bianca vertolk. Die kinematograaf, Marius de Nysschen maak tydens gesprekke tussen verskillende karakters van oor-die-skouer skote gebruik waardeur televisie-onderhoude gekenmerk word. Fathom Media/Key Art se kreatiewe gebruik van animasie in die titelsekwens asook Juvan Redelinghuys se vindingryke redigering versterk nog verder die geloofwaardigheid van die fiktiewe realiteitsprogram, Vat ’n Kans. Candy Benson se gelyknamige treffer, Vat ’n Kans wat as die temalied van hierdie film dien, ondersteun die idee dat ’n mens somtyds bereid moet wees om ’n kans op die liefde te waag.

Dié innoverende romantiese komedie wat in verskeie opsigte aan die gewilde film, Semi-Soet herinner, slaag daarin om die sogenaamde sprokiesverhaal weergawe van die liefde behoorlik op sy kop te keer. Dié film se onderliggende boodskap is dat ’n mens jouself baie onnodige hartseer en vernedering kan spaar indien jy bereid is om die lewe sy voorafbepaalde gang te laat gaan eerder as om jou vooropgestelde idees daarop af te forseer. Vat ’n Kans met sy pittige draaiboek propvol kwinkslae en komiese karakters asook verskeie skaterlag oomblikke sal beslis aanklank vind by diegene wat nie bang is om hul gemaksone te verlaat en nuwe kanse te waag nie.