Vergeet my nie: Die liggies, die horison en die klipkoppies

Tydsduur: 117 minute
Ouderdomsbeperking: 13DLS
Genre: Romantiese Drama
Vervaardigers: Danie Bester, Dries Scholtz
Regisseur: André Velts
Draaiboek: Tarryn-Tanille Prinsloo
Musiek: Loki Rothman
Kinematografie: Marius de Nysschen
Redigering: Eva du Preez
Produksie-ontwerp: Waldemar Coetsee
Kostuumontwerp: Anine Scheepers
Rolverdeling: Marguerite van Eeden, Sean-Marco Vorster, Kenley Swart, Pietie Beyers, Elani Dekker, Amalia Uys, Christopher van der Westhuizen, Leché Joubert, Rikus Strauss, Fiona Ramsay, Arno Greeff, Neil Sharim, Wim Beukes, Zander de Beer, Franzel de Wet

Vergeet My Nie vertel die verhaal van hoe ’n BA Kommunikasiestudent van Potchefstroom, Mardaleen Coetzer, en die aantreklike kaalvoet Namibiër, Hugo Derks, halsoorkop op mekaar verlief raak wanneer hulle saam met vyf ander Suid-Afrikaners in Huis Konettie in Londen bly. Hierdie romantiese drama met sy nostalgiese terugblik op die leefstyl van die negentigerjare beloof om nie slegs kykers se harte aan te raak nie, maar hulle ook behoorlik te laat skaterlag. 

Die draaiboekskrywer, Tarryn-Tanille Prinsloo van Trouvoete-faam, het Hugo en Mardaleen se ware liefdesverhaal plek-plek vir die silwerskerm aangepas, hoewel dit op ware gebeure gegrond is. Die tuimeldroër, asook die liggies, word albei onderskeidelik as leitmotief gebruik, wat deurlopend hulle opwagting maak, ongeag van waar die hoofkarakters hulself bevind. Die draaiboek bevat verskeie intertekstuele verwysings na bekende poësie vanuit die Afrikaanse literêre kanon soos Ontvlugting deur Ingrid Jordaan en Die dag op Nuweland deur Jeanne Goosen, waardeur Mardaleen se belangstelling in boeke en skrywers ten toon gestel word.

André Velts van Knysna-faam se ervare regisseurshand blyk duidelik uit die geloofwaardige vertolkings, wat deur elke toneelspeler gelewer word. Marius de Nysschen van Hotel faam se kinematografie word hoofsaaklik gekenmerk deur vinnig bewegende sekwense op die maat van allerhande bekende Suid-Afrikaanse liedjies vanuit die negentigerjare. Eva du Preez van Kanarie faam volg ’n byna soomlose redigeringstyl met die uitsondering van ’n enkele toneel, waartydens sy van in- en uitdowing gebruik maak as ’n tegniek om tydsverloop aan te dui. 

Die rolverdeling wemel van jong talent soos Marguerite van Eeden (Vaselinetjie), Sean-Marco Vorster (Susters), Elani Dekker (Liewe Lisa), Pietie Beyers (Skemerson) en Arno Greeff (Die Pro), asook Kenley Swart en Leché Joubert, wat hulle debuut in ’n vollengte speelfilm maak. Die legendariese aktrise, Fiona Ramsay (Table Manners), steel egter die kollig met haar uitmuntende vertolking van Viviene Tift, ’n skrywer van erotiese romans met emfiseem, wat met haar hardkoppigheid vir heelwat skreeusnaakse oomblikke sorg.

Die oorspronklike musiek vir hierdie film is deur die uiters talentvolle Loki Rothman van Jou Romeo faam gekomponeer, terwyl Riana Nel se treffer, Ewigheid, as die temalied vir dié ware liefdesverhaal dien. Lisa se klavier deur Koos Kombuis word ’n deurlopende motief, vandat Hugo dit oorspronklik tydens ’n karoke-aand in Potchefstroom vir Mardaleen sing totdat dit jare later weer met sy aankoms by haar woonstel in Londen oor die radio speel. Die klankbaan bestaan verder uit Lalie deur Koos Kombuis, Mannetjies Roux deur Laurika Rauch, Just deur Karma-Ann Swanepoel, Shallow Waters deur Just Jinger en I Love You Madly deur Cake, asook Bubblegum on my boots en Genie deur Springbok Nude Girls.

Die konflik tussen liefde en selfstandigheid, asook die besluit om jou eie drome te volg of dié van jou lewensmaat te ondersteun, is van die sentraal onderliggende temas wat in hierdie film aangespreek word. Vergeet My Nie met sy tikkie woordkuns, romantiese musiek en komiese tonele sal beslis aanklank vind by enigeen, wat al ooit voor die byna onmoontlike keuse tussen ’n roemryke loopbaan en die liefde van sy/haar lewe te staan gekom het.