Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Vuil Wasgoed: Die absurde soeke na ’n onderduimse vinger

Hooffoto: Werner Botha | Plastiek 

Tydsduur: 100 minute
Ouderdomsbeperking: 16 LV
Genre: Aksiekomedie
Vervaardigers: The Film Factory, Bouwer Bosch Films en Bennie Boek Films
Regisseur: Morné du Toit
Draaiboek: Bennie Fourie
Musiek: Benjamin Willem
Redigering: Quinn Lubbe
Kinematografie: Eduan Kitching
Rolverdeling: Bouwer Bosch, Bennie Fourie, Tim Theron, Stiaan Smith, Nico Panagio, Charlie Bouguenon, Leandie du Randt Bosch, Simoné Nortmann

Vuil Wasgoed vertel die verhaal van hoe Wim en Kevin wat bedags by ‘n wassery werk en dan snags in hulle kliënte se klere partytjie hou by ‘n baie gevaarlike onderwêreld ingesleep word. Die berugte juweelsmokkelaar, Charles Gotty se verraaier, Tom sowel as sy twee seuns, Joe en Manny is op hulle spoor nadat hul sy afgesnyde vinger in ‘n aandpak se baadjiesak ontdek het. Hierdie aweregse, donker komedie propvol allerhande skreeusnaakse mannewales beloof om kykers nie net te laat skater van die lag nie, maar om hulle ook behoorlik hul naels te laat kou.

Dié gelyknamige kortfilm wat met ‘n allemintige ses toekennings by die kykNET Silwerskermfees in 2014 weggestap het, is tot ‘n boeiende vollengte film verwerk deur Bennie Fourie wat ook die rol van Kevin in Vuil Wasgoed vertolk. Fourie wat met ‘n SAFTA-toekenning vir Beste Draaiboek vir sy grensverskuiwende mokumentêr, Hotel bekroon is, oortref homself oudergewoonte met verskeie satiriese kwinkslae sowel as spitsvondige dialoog wat in dié draaiboek aangetref word. Die enigste nadeel is egter dat al die vroulike karakters vanaf die twee veearts en ny-studente tot Jackie en Joe se vroue deurlopend as stereotiep en eendimensioneel uitgebeeld word.

Dié skop-skiet-en-donner film word deur sekwense bestaande uit vinnige, kort skote gekenmerk wat voortdurend tussen hede en verlede wissel. Die regisseur, Morné du Toit van Hoofmeisie faam verhoog die spanning van die intrige deur van ekstreme nabyskote op bepaalde karakters se oë, monde en voete gebruik te maak. Die kinematograaf, Eduan Kitching van Die Pro faam span sy donker beligting in om die gevaar van hulle omstandighede effektief te kan beklemtoon.

Bouwer Bosch en Bennie Fourie (Mooirivier) sowel as Stiaan Smith (Beurtkrag) se vriendskap in die regte lewe veroorsaak ‘n baie natuurlike, gemaklike kameraadskap tussen hulle karakters. Tim Theron (Jagveld), Nico Panagio (Semi-soet) en Charlie Bouguenon (Sterlopers) daarenteen was egter glad nie oortuigend as die gewetenlose skurke nie. Boonop word baie ervare aktrises soos Leandie du Randt Bosch (Die Windpomp), Simoné Nortmann (Vir Die Voëls) en Carmin Coetzer (Pad Na Jou Hart) se toneelspel vermoëns ongelukkig deur ‘n ernstige gebrek aan karakterontwikkeling gekniehalter.

Die oorspronklike musiek vir die klankbaan wat deur Benjamin Willem van Wolwedans in die Skemer faam gekomponeer is, beklemtoon die wrede en bose atmosfeer waarin die karakters hulself bevind. Anneli van Rooyen se legendariese treffer van die tagtigs, Ek lewe speel verder ook ‘n besondere rol om die smeulende romanse tussen Kevin en Nikki aan te wakker.

Hierdie sogenaamde “buddy komedie” maak van ‘n jeugdige, byderwetse humorsin gebruik om die bestaande komedie genre binne die plaaslike filmbedryf behoorlik op sy kop te keer. Dit is een van die heel eerste Suid-Afrikaanse komedies wat daarin slaag om werklik snaaks te wees sonder dat dit lyk asof alles vooraf beplan is en selfs belangriker nog sonder om vulgêr te wees. Vuil Wasgoed is nie net ‘n moet-sien vir alle aanhangers van Bouwer Bosch se sketse nie, maar ook vir enigeen wat sommer net lekker uit hul maag wil lag en van al hul sorge wil vergeet.