Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Wonderlus: ’n Ontsnappingsreis na liefde se oorsprong

Tydsduur: 110 minute
Genre: Drama, Komedie, Romanse
Ouderdomsbeperking: 16 DLS
Vervaardigers: Johan Cronjé, Zandré Coetzer, Chanél Muller, Scharl van der Merwe
Regisseur: Johan Cronjé
Draaiboek: Johan Cronjé
Musiek: Franco Prinsloo, Francois de Klerk
Kinematografie: Devin Toselli
Redigering: Johan Cronjé, Reghardt Botha
Rolverdeling: Mila Guy, Edwin van der Walt, Lea Vivier, Simoné Nortmann, Stiaan Smith, Beer Adriaanse, Adam Heyns, Ansu Visser, Lynelle Kenned, Marvin-Lee Beukes, Francois Jacobs, Elma Postma

Wonderlus vertel die verhaal van hoe ’n bruidspaar se vriende die raaisel probeer oplos van presies wat die vorige aand gebeur het toe hulle prentjiemooi troue op sy kop gekeer is. ’n Bruidegom probeer die liefde van sy lewe opspoor, ’n bruid probeer haarself uit die verlede loswikkel en ’n kelnerin probeer die hede ontsnap in hulle soeke na antwoorde. Dié donker komedie met sy galge humor oor die ontnugtering van ’n jong geslag beloof om ’n aweregse soeklig op die sin en betekenis van ware liefde sowel as konflik binne verhoudings te plaas.

Johan Cronjé maak met hierdie gewaagde projek nie net sy debuut as die vervaardiger en die regisseur nie, maar ook as die draaiboekskrywer en die redigeerder van ’n vollengte film. Sy skaamtelose eksperimentering met die jukstaposisionering van tyd asook die gebruik van heelwat naamlose karakters dui op ’n baie sterk postmoderne benadering tot die draaiboek. Die dramatiese ironie in hierdie verhaal wat ’n troue as vertrekpunt vir die plot gebruik, word verhoog deur die vertelling wat voortdurend tussen hede en verlede wissel. Karakters soos Bruid en Kelnerin se universaliteit word deur hulle naamlose identiteit beklemtoon wat dit vir die kykers makliker sal maak om met hulle te kan identifiseer. Die vloekwoorde waarmee die karakters se dialoog deurtrek is, mag natuurlik en realisties vir hulle ouderdomsgroep wees, maar verloor ongelukkig die gewenste effek as gevolg van die oorvloedige gebruik daarvan.

Die kinematograaf, Devin Toselli van Jou Romeo-faam slaag deur die gebruik van skote wat met die hand afgeneem is daarin om bepaalde tonele in dié film se intimiteit te kan verhoog. Dit word egter gereeld deur wye landskapskote afgewissel om die verwardheid, verlatenheid en onsekerheid van die onderskeie karakters te kan beklemtoon. Die klankontwerp wat deur Jim Petrak se meesterlike aanvoeling vir detail gekenmerk word, slaag daarin om die gehoor op ’n intieme wyse by hul elkeen se doen en late te betrek. Die elektro-popmusiek wat deur Franco Prinsloo en Francois de Klerk vir dié film gekomponeer is, verhoog ongetwyfeld die dramatiese effek van die voortdurende wisselwerking wat tussen lig en donker aanwesig is.

Dié ensemble film wemel van jong talent insluitende Mila Guy (Liewe Kersfeesvader), Edwin van der Walt (Ballade vir ’n Enkeling), Simoné Nortmann (Vir die Voëls), Stiaan Smith (Sy Klink Soos Lente) en Marvin-Lee Beukes (Uitvlucht). Dis egter die nuweling, Lea Vivier wat die kollig steel vir haar vertolking van die ontembare en geheimsinnige kelnerin waarvoor sy by die 2017 kykNET Silwerskermfees ook met die toekenning vir Beste Aktrise bekroon is.

Dié uitdagende film wat aan Lars von Trier se Melancholia herinner, slaag daarin om al die kwessies waarmee die jong paartjies meestal worstel deur middel van rou emosies en sterk taalgebruik aan te spreek. Die onthutsende wyse waarop liefde, verhoudings, volwassenheid en verantwoordelikheid daardeur uitgebeeld word, dui op die onteenseglike sosiale sowel as morele verval van die hedendaagse jeug binne ’n moderne samelewing. Wonderlus met sy brawe keuses ten opsigte van styl en dialoog is beslis nie vir sensitiewe gehore geskik nie.